Op ‘n hoogte bokant die stad Granada, Spanje, staan die imponerende paleis-vesting genaamd Alhambra. Dit is die setel van die Moorse heersers tussen 1238 en 1358, gedurende die heerskappy van Ibn al-Ahmar – stigter van die Nasrid dinastie – en sy opvolgers.
Islamitiese beheer oor die Iberiese skiereiland het so vroeg soos 711 begin to Tariq ibn-Ziyad the Mediterreense see oorgesteek het met ‘n Berber weermag. Tariq ibn-Ziyad se magte het die Wes-Gote onder Roderick – die laaste Wes-Gotiese koning van Spanje – oor die Pireneë gedryf en die ganse Iberiese skiereiland hul eie gemaak. Roderick sterf in die stryd. Sy voorganger, Witiza, wie hy in sommige se opinie wederregtelik opgevolg het, se seuns word deur die nuwe heersers toegelaat om hul koninklike landgoedere te behou, maar is van enige en alle mag ontneem.
Die benaming Al-Andalus verwys gedurende dié tydperk na die hele Iberiese skiereiland – wat vandag Spanje en Portugal is. Na die verval van die Umayyad dinastie in die elfde eeu begin Christen magte geleidelik die skiereiland inval en okkupeer. Na die stof gaan lê en ‘n balans van mag van ‘n baie brose aard ingestel is, verwys Al-Andalus na die beperkte deel van die skiereiland wat steeds deur die Moslems regeer word. Dié deel sluit Granada in en die strekking daarvan is baie naby aan die Spaanse streek wat vandag Andalusië heet.
Die Alhambra (‘n verdraaiing van die Arabies vir “Rooi Huis” en ‘n verwysing na die natuurlike kleur van die mure) is geleë wes van die stad Granada op ‘n heuwel genaamd Sabika. Die ligging gee dit nie net ‘n asemrowende uitsig oor die stad en die omliggende vega (vlakte) nie, maar ook ‘n strategiese voordeel as ‘n militêre uitkykpunt.
Die kompleks beslaan sowat 10 hektaar en die mure volg die natuurlike kontoere van die heuwel. Daar is 30 torings en talle kleiner strukture wat saam die geheel van die kompleks opmaak. Met die stad wat die Sabikaheuwel omarm, en die Alhambra in die middel op die heuwel, word dit deur bekoorde Arabiese skrywers vergelyk met ‘n skitterende juweel in ‘n swierige kroon.
Aan die voet van die heuwel vloei die Darrorivier deur ‘n diep ravyn. Dit vorm die grens tussen die Alhambra en die antieke Moorse woongebied. Saam verteenwoordig dit die Middeleeuse kern van die stad.
Gedurende sy blom tydperk bestaan die Alhambra uit drie dele: die Alcazaba, die paleis gedeelte en die Medina. Die Alcazaba is die militêre deel en die woning vir soldate en hul families. Die paleis gedeelte huisves verskeie paleise vir die sultan en sy familie. Die Medina is waar die personeel wat die hele kompleks aan die gang hou werk en woon.
Die Alcazaba is die oudste deel van die Alhambra kompleks en kenners beweer dit is gebou nog voor die Moslems hul opwagting gemaak het in Granada. Die oudste verwysing na die Alcazaba is in ‘n vertelling van ‘n man genaamd Sawwar ben Hamdun, wat in die negende eeu daar skuiling gesoek het tydens siviele onrus tussen Moslems en sogenaamde Muladies (mense van gemengde Moslem en Europese afkoms) in die stad. Dié skrywes wil dit hê dat einste Sawwar ben Hamdun dan die een was wat owerhede oorreed het om die Alcazaba verder te ontwikkel. Die fasiliteit bly egter slegs agtergrond tot die storie van Granada tot ten minste die 11de eeu toe die Zirid dinastie se emir Badis ben Habus gepoog het om ‘n antieke Joodse vesting in Albaicin as paleis oor te neem. Om dié struktuur en die Joodse nedersetting rondom dit te bewaar het ene Samuel ibn Nahgralla – ‘n minister in die regerende strukture – aangebied om eerder die Alcazaba op die Sabikaheuwel vir hom in ‘n paleis te omskep. In 1238 trek Mohammed ben Al-Hamar – koning Mohammed die Eerste en stigter van die Nasrid dinastie – in en begin die Alcazaba te ontwikkel na die Alhambra kompleks wat ons vandag ken. Sy seun en kleinseun – Mohammed die Tweede en Derde – sit sy werk voort. So ook Yusuf die Eerste en Mohammed die Vyfde, wie verantwoordelik is vir meeste van die bekende strukture soos die Stoep van die Leeus, die baddens en die Saal van die Boot.
In 1492 word Granada verower deur Koning Ferdinand van Aragon en Koningin Isabelle van Castile. Hulle verenig Spanje onder een Katolieke monargie en beëindig eeue van Islamitiese heerskappy. Die laaste van die Nasrid dinastie se heersers – Mohammed die Twaalfde – sterf in ballingskap.
Die Alhambra ondergaan menigte verbouings en verbrekings gedurende die daaropvolgende jare. Koning Charles die Vyfde breek dele af om plek te maak vir ‘n Renaissancestyl paleis. In 1812 blaas die Franse van die kompleks se torings op gedurende die Skiereilandoorlog. Koning Ferdinand die Sewende stel die argitek José Contreras in 1828 aan om die Alhambra te herstel en ‘n epiese poging begin wat later voortgesit sal word deur Contreras se seun en kleinseun na hom.
Die Amerikaanse Washington Irving skrywer trek in 1829 in deel van die Alhambra in en skryf “Tales of the Alhambra” gedurende sy verblyf daar. In 2009 – met die 150ste herdenking van sy tyd in die Alhambra – word ‘n standbeeld van Irving in die tuin buite die hekke opgerig uit waardering vir hoe hy die Westerse wêreld bewus gemaak het van Spanje se Islamitiese geskiedenis.
In sy blom tydperk tydens die agste eeu was Cordoba in Al-Andalus die mees gevorderde stad in Europa. Die More het gespog met menigte tegnologiese wonders, papier, syfers soos ons dit vandag ken, geplaveide strate met verhewe sypaadjies, straatlampe, 900 publieke baddens en die Groot Moskee van Cordoba met sy 1000 marmer kolomme. In ‘n tyd toe 99% van Christen Europa ongeletterd was en dit geensins vreemd was vir ‘n koning om nie te kan lees of skryf nie, was geleerdheid ‘n alledaagse ding in Al-Andalus. Daar was sewentien universiteite versprei oor Almeria, Cordoba, Granada, Juen, Malaga, Sevilla en Toledo. Die ganse res van Europa kon spog met slegs ‘n skamele twee.
In die tiende en elfde eeue was biblioteke in Europa nog in die verre toekoms. In Moorse Spanje was daar 70 waarvan die grootse – in Cordoba – meer as 60 000 manuskripte bevat het.
Een van die grootste oorblyfsels van die invloed van die More op Westerse kultuur vandag is sekerlik die kitaar. Dié instrument is deur die More na Europa gebring as die al-uud – of die oud. Van daar het dit ontwikkel in die luit, die lier en die vele vorme van die kithara.
Menigte permutasies van die kithara volg: met minder snare, met meer snare, met enkel snare, met dubbele snare, en met verskeie verskillende instemmings. Instrumente soos die vihuella sal kom en gaan, maar teen die 1800’s is die ses-enkelsnaar kitaar met die snare ingestem as E-B-G-D-A-E gevestig. Die instrument sal egter verder ontwikkel met die klankkas wat platter en breër raak vir beter resonansie, die nek wat nouer word vir beter bereik van die snare en die stemknoppe wat van hout penne na metaal skroewe verander word. Meeste van dié innovasies is die werk van Antonio Torres en die gevolg is wat ons vandag ken as die klassieke kitaar.
Die volgende noemenswaardige ontwikkeling in die bestaan van die kitaar is toe George Beauchamp en Adolph Rickenbacker in 1931 elektriese toonopnemers op ‘n staalsnaarkitaar vasmaak. Dié twee registreer die eerste patent vir ‘n elektriese kitaar. Kort daarna is daar menigte spelers in die veld besig om holkas elektriese kitare te maak: Rickenbacker, Dobra, National, AudioVox, Volu-tone, Vega, Epiphone en Gibson spring almal in gedurende die 1930’s.
Die eerste soliede-kas elektriese kitaar is ‘n aanmekaargeplakte skepsel deur Les Paul in 1940 – gebou uit dele van ‘n Epiphone holkas elektriese kitaar. Alhoewel dit die konsep bewys het en die begin was van die eksperimentering met soliede-kas kitare, was die idee ver van verfyn af. In 1952 ontwerp Gibson se Ted McCarthy ‘n werkende, massa-produseerbare model en doop dit die Les Paul – vernoem na die vroeë pionier.
Twee jaar tevore, egter, maak Clarence Leonidas “Leo” Fender se Fender Musical Instruments Corporation die eerste werkende, massa-produseerbare soliede-kas elektriese kitaar: die legendariese Fender Telecaster. Die twee Telecaster modelle – die Esquire met een opnemer en die Broadcaster met twee – word onmiddellik gewild onder musikante in Amerika. Leo Fender hou kontak met die kitaarspelers en samel terugvoer in. Al dié terugvoer word ingewerk in die ontwerp van sy volgende model. In 1954 word die Stratocaster vrygestel en rock verhoë die wêreld oor sal nooit weer dieselfde wees nie.
Die Stratocaster – of Strat vir kort – stel dadelik die industrie standaard met ‘n rits eerstes. Die kenmerkende vorm van die kas was revolusionêr vir die tyd en dit was die eerste elektriese kitaar om nie ‘n konvensionele akoestiese kitaar vorm na te boots nie. Die vorm was uit en uit ontwerp om gemaklik gespeel te kan word deur ‘n staande speler met die kitaar om sy nek aan ‘n band. Die drie opnemers – in stede van die gewone een of twee – het die speler meer variasie in klank en toonaard gegee. Die integrasie van ‘n vibrato arm in die brug was ook ‘n aansienlike verbetering op vroeëre ontwerpe.
Dit was egter spesifiek die feit dat die Stratocaster eenvoudig was ten spyte van sy gevorderde ontwerp wat hom so populêr sou maak. Dit kon maklik aan gewerk word, uitmekaargehaal word en spelers het graag hul Strats hul eie gemaak met persoonlike aanpassings.
Een so musikant wat graag sy Strat aangepas het om ‘n unieke klank voort te bring was Jimi Hendrix.
James Marshall Hendrix word op 27 November 1942 gebore as Johnny Allen Hendrix in Seattle, Washington, Amerika. Ofskoon hy skaars vier jaar van hoofstroom sukses beleef voor sy dood, word hy wyd beskou as een van die mees invloedryke elektriese kitaarspelers en is hy een van die mees gevierde musikante van die 20ste eeu.
Al – soos sy familie hom genoem het – beleef stormagtige kinderdae wat grens aan mishandeling. Sy wens vir ‘n kitaar word telkemale deur sy pa geweier. Hy tel die eerste keer op vyftienjarige ouderdom ‘n kitaar op. Hy sou ure per dag kyk en luister na groot blues spelers soos Muddy Waters, B.B. King, Howlin’ Wolf en Robert Johnson. So leer hy homself blues speel en ontwikkel hy ‘n wye invloedbasis. Kort daarna vorm hy sy eerste groep, The Velvetones, maar sy akoestiese kitaar is skaar hoorbaar bo die res van die groep. Teen sy sewentiende verjaarsdag was sy talent so duidelik dat sy pa nie meer kon nee sê nie. Hy koop vir jong Al ‘n Supro Ozark elektriese kitaar en hy begin speel saam met plaaslike groepe.
Skaars vyf jaar later toer hy saam met die Isley Brothers en Little Richard. As lid van Curtis Knight and the Squires begin sy ongekende talent wyd bekend raak. Een aand in die bekende Cheetah Club sien Linda Keith – meisie van die Rolling Stones se kitaarspeler Keith Richards – hom raak. Een ding lei tot ‘n ander en in 1966 vestig hy homself in Londen om aan ‘n solo loopbaan te begin werk.
Sy naam verander weer – van Jimmy na die meer eksotiese Jimi – en hy skaf ‘n nuwe Strat aan. Jimi is linkshandig en hy word ‘n linkshandige Strat aangebied. Sy lewe deur het hy egter regshandige kitare onderstebo gesnaar en die kitaar bloot omgedraai. Hoekom sal hy nou verander? Die onderstebo Strat om Jimi se nek word vinnig deel van sy persona.
Vir die eerste album van sy nuwe groep The Jimi Hendrix Experience, verwerk hy ‘n liedjie wat hy gereeld saam met Curtis Knight and the Squires opgevoer het genaamd “California Nights” – op sy beurt gebaseer op die ou Albert King blues liedjie “Travelin’ to California”.
In die idioom van die blues genre skryf hy lirieke by, vat lirieke weg, behou die konvensionele “12-bar blues” akoordstruktuur. Die storie wat vertel word is ook ‘n tradisionele blues storie: die skrywer se geliefde se liefde vir hom het verflou en sy het die hasepad gekies sonder om totsiens te sê.
In 1967 verskyn The Jimi Hendrix Experience se eerste album. Mitch Mitchell is op die tromme en Noel Redding op die baskitaar. “Are You Experienced” is onmiddellik ‘n reuse sukses. Trouens, dit word beskou as een van die beste debuut albums ooit in rock-geskiedenis.
Die verwerkte blues liedjie is die derde snit op kant een. Dit heet “Red House” – en verwys nie na die Alhambra nie, maar wel na die huisie waar die skrywer se meisie gewoon het en waar sy sleutel tot sy ontsteltenis nou nie meer die voordeur wil oopsluit nie.