#0005
Stoomenjins • 'n 1960's treffer • 'n pop ikoon • die Melbourne Docklands • en die eerste lokomotief Doer Onder
James Watt? George Stephenson? Nee, die eerste volwaardige stoomlokomotief was die handewerk van ‘n vindingryke 6-voet-2 Cornwallieser genaamd Richard Trevithick.
Die Skotse uitvinder en meganiese ingenieur, James Watt, het vroeër die stoomenjin van Thomas Newcomen – wat meestal gebruik is om water uit myne te pomp – tot ‘n resiprokale enjin verbeter sodat dit in staat was om ‘n wiel te draai. Alhoewel Watt se masjien sterk genoeg was om ‘n ganse katoen meule aan te dryf, was dit ‘n reusagtige stilstaande masjien. Die stoom was nie direk verantwoordelik vir die druk op die suier nie, maar lae druk stoom het ‘n suier laat beweeg deur krag uit te oefen op ‘n vakuum binne in die silinder. Watt het rondgespeel met die idee van ‘n kleiner hoë druk masjien waar die stoom die krag direk op die suier uitoefen, maar die ketelmaak-tegnologie van die tyd kon nie die vlak van druk wat so masjien sou benodig weerstaan nie. Steeds het hy en sy werknemer William Murdoch in 1784 ‘n werkende skaalmodel van so ‘n enjin gebou en ‘n patent vir ‘n volskaalse stoomlokomotief laat registreer.
In 1801, na ‘n hele klompie jare se eksperimentering met stilstaande hoë druk enjins, sit Richard Trevithick so hoë druk enjin op wiele en Oukersaand van daai jaar stoom sy Puffing Devil van Camborne Cross af op met Camborne Hill, al met Forestraat langs na die nabygeleë dorpie, Beacon. Aan boord is ses brawe passasiers en agter die stuur sit sy neef Andrew Vivian. Dit word algemeen erken as die eerste demonstrasie van stoomaangedrewe publieke vervoer. Die manne is so ingenome met hulself dat hulle die komende dae verder ry. Drie dae later gaan staan die Puffing Devil toe dit ‘n sloot in die pad raak ry. Die manne sien dit as ‘n goeie verskoning om ‘n welverdiende blaaskans te gaan geniet in die naaste publieke huis. Die reuse voertuig word onder ‘n nabye afdak getrek met die vuur nog aan die brand in die brander. Terwyl hulle smul aan gebraaide gans en die een bier na die ander wegslaan, kook die water in die enjin weg, die enjin oorverhit, die masjien brand en word totaal vernietig.
Die Puffing Devil kon nie die nodige druk vir lank genoeg handhaaf om van veel praktiese nut te wees nie, en in 1803 bou Trevithick ‘n verbeterde weergawe van sy patent. Dié een heet die London Steam Carriage en dit kry reuse aftrek van die publiek en pers toe dit deur die strate van Londen stoom vanaf Holborn na Paddington en weer terug. Die masjien is egter erg ongemaklik vir passasiers en is aansienlik duurder om te bedryf as ‘n perdekar.
‘n Jaar vantevore het Trevithick egter een van sy hoë druk enjins by die Pen-y-Darren staalwerke naby Merthyr Tydfil in Wallies staangemaak. Die doel van dié masjien was om ‘n hamer aan te dryf wat gebruik is om die warm staal mee te bewerk. Dié stilstaande enjin monteer hy later op ‘n wa en hy beïndruk sy baas, Samuel Homfray, tot so mate dat Homfray ‘n weddenskap aangaan met die eienaar van ‘n ander staalwerke vir 500 ghienies dat Trevithick se stoomlokomotief 10 ton staal sal kan sleep vanaf Pen-y-Darren met die Merthyr Tydfil tremspoor langs tot by Abercynon – sowat 9,75 myl ver. So gesê, so gedaan, en op 21 Februarie 1804 sleep die naamlose stoomlokomotief 10 ton staal en 70 staalwerkers op 5 trokke suksesvol oor die roete. Die reis duur net so oor die vier ure teen ‘n gemiddelde spoed van 4km/h.
Alhoewel dit die eerste stoomtrein as sulks was – siende dat dit op spore geloop het – het die tremspoor plek-plek gebreek onder die gewig van die lokomotief en na die herstelwerk voltooi is, is voortgegaan met die tremdiens soos tevore: met perde wat die waens trek. En die enjin is weer staangemaak by die Pen-y-Darren staalwerke waar hy gedwee staal gehamer het vir vele jare daarna. Trevithick het egter bewys dat staal wiele op staal spore genoeg traksie bied onder die gewig van ‘n stoomlokomotief dat groot massas vrag so vervoer kan word. Die verbeelding van menigte industrialiste is aangegryp. ‘n Nuwe mark is onmiddellik in die lewe geroep. En as die industriële geskiedenis ons enigiets leer, is dit dat waar daar ‘n mark is, die nodige tegnologie om so mark te bedien spoedig volg.
Asof dit vir die stoomtrein entrepreneurs bestier is, jaag die Napoleontiese oorloë van 1803 tot 1815 die prys van voer so op dat stoomvervoer skielik na ‘n baie meer ekonomiese opsie lyk vergeleke met perdevervoer as te vore. Al wat ‘n ingenieur is spring aan die werk.
Matthew Murray se Salamanca loop in 1812 op die Middleton smalspoorlyn in Leeds. Dié lokomotief is egter nie swaar genoeg vir staal-op-staal traksie nie en word deur ratspoor voortgedryf. William Hedley se Puffing Billy loop in 1813 op die Wylan steenkoolmyn se privaat spoorlyn, voortgedryf slegs deur staal-op-staal traksie. Puffing Billy staan deesdae in die Science Museum in Londen as die oudste bestaande stoomlokomotief in die wêreld.
Nog ‘n ingenieur en uitvinder wat inspirasie vind in die vroeë pioniers soos Trevithick, Murray en Hedley, is George Stephenson. Hy oorreed sy werkgewers by die Killingworth steenkoolmyn om hom toe laat om hul fasiliteite te gebruik om ‘n stoomlokomotief te bou vir gebruik by die myn. In 1814 bou hy die Blücher – ‘n staal-op-staal traksie lokomotief. Stephenson hou aan om te verbeter op sy ontwerp en sy innovasies meer as enige ander s’n is verantwoordelik vir die suksesvolle kommersiële ontwikkeling van die stoomlokomotief. In 1825 loop sy Locomotion op die Stockton & Darlington Railway in die noord-ooste van Engeland as die eerste publieke stoomaangedrewe spoorweg met ‘n gereelde diens. Sy sukses vestig hom en sy maatskappy as die toonaangewende bouers van stoomlokomotiewe vir gebruik op die spoorweë van Brittanje, Amerika en Europa.
In die vroeg 1960’s is die man-en-vrou skryfspan van Gerry Goffin en Carole King werkagtig by die klein, nuwe Dimension Records platemaatskappy. Dié legendariese span sal verantwoordelik wees vir amper al Dimension Records se treffers. In 1962 skryf hulle ‘n liedjie vir Dee Dee Sharp, wat kort tevore ‘n treffer gehad het met “Mashed Potato Time”. Sharp stel egter nie belang in die nuwe liedjie nie, en dit is hul tweede keuse, Eva “Little Eva” Boyd wat ‘n nommer-een treffer in Amerika behaal met “The Loco-Motion”.
Slegs dae na Little Eva haar weergawe vrystel is die liedjie ook deur ‘n Britse groep The Vernon Girls opgeneem. Beide weergawes het die Britse treffersparade in die dieselfde week in 1962 betree. The Vernon Girls se weergawe bereik egter slegs die 47ste posisie, terwyl Little Eva s’n skiet tot by die tweede posisie. In dieselfde jaar neem die Franse sangeres Sylvie Vartan ‘n Franse weergawe op en bereik daarmee die top posisie op die Franse treffersparade.
Die liedjie is ‘n voorbeeld van ‘n resep wat in daai jare baie sukses vir baie kunstenaars gebring het: die liedjie-en-dansie genre. Die verskil in die geval van “The Loco-Motion” is dat die liedjie eerste gekom het en die vervaardigers vinnig moes spring om ‘n dansie uit te dink om dit te vergesel toe dit sukses bereik!
Tydens die eerste maande van haar kort loopbaan het Boyd vir Goffin en King as huishulp gewerk. Sy het $35 per week verdien. Na haar sukses is haar salaris opgeskuif na $50 ‘n week en sy is van meeste van haar huishoudelike pligte onthef sodat sy kan konsentreer op opnames en optredes. Sy het egter nooit ‘n sent tantieme uit enige van haar opnames verdien nie. In 1971 – toe haar loopbaan verwelk – trek sy terug na haar geboortestaat van Suid-Carolina. Daar verdwyn sy en oorleef op los werkies en welsyn. In 1987 word sy herontdek en sy beleef ‘n kort herlewing van haar sukses tydens die 1960’s. Sy sterf aan servikale kanker in 2003.
Menigte weergawes van “The Loco-Motion” het sedert 1962 verskyn deur ‘n uiteenlopende versameling kunstenaars en groepe. Die disco-groep Ritz bereik taamlike sukses met hul weergawe in 1979, asook Dave Stewart (van Eurythmics-faam) en Barbara Gaskin in 1986. Carole King neem dit ook op meer as een geleentheid op as deel van versamelings van die liedjies uit haar en haar man se pen(ne).
Dis egter die 1974 weergawe deur die Amerikaanse rock groep Grand Funk Railroad en Kylie Minogue se 1987 weergawe wat saam met Little Eva se 1962 weergawe die liedjie die prestasie besorg van die enigste liedjie ooit om in drie verskillende dekades die top drie posisies van die Amerikaanse treffersparade te behaal, met ‘n eerste plek vir Little Eva en Grand Funk Railroad, en ‘n derde plek vir Kylie Minogue.
In die middel tagtigerjare verskyn daar ‘n stralende jong aktrise op die Australiese sepie reeks “Neighbours”. Die rol van die rabbedoe werktuigkundige, Charlene Robinson, word vertolk deur ‘n jong Kylie Minogue. Haar onmiddellike gewildheid onder kykers trek die aandag van die Britse musiek produksiespan Stock Aitken Waterman. Kylie koester reeds van jongdae af ‘n droom om musiek te maak en die vennootskap skop dadelik op ‘n suksesvolle noot af. Sy reik haar eerste album van popliedjies, “Kylie”, in 1988 uit.
Teen die vroeë 1990’s het sy vier albums en menigte wêreldwye treffers agter haar naam – almal uitgereik deur dié treffermasjien. Sy ontgroei egter die jeugdige benadering van Stock Aitken Waterman en in 1993 skei hul paadjies en sy kry meer beheer oor haar loopbaan. Haar werk word dadelik meer persoonlik en sy begin stadigaan die kougom-beeld wat Stock Aitken Waterman gekweek het, afskud. Haar mees suksesvolle album tot op hede verskyn in 2001 en “Fever” word beskou as haar beste werk.
Kylie Ann Minogue is in 1968 gebore in Melbourne, Australië. Sy word groot in ‘n middelklas huis waar haar pa, Ronald, ‘n rekenmeester vir ‘n motorhandelaar en haar ma, Carol, ‘n voormalige balletdanser is. Sy en haar suster Dannii neem beide sang- en danslesse as kinders en beide kry klein rolle in TV reekse. Beide neem ook aan sangkompetisies en talentparades deel. Die twee sussies se gewildheid en sukses loop hand aan hand tot en met Kylie die rol van Charlene Mitchell losslaan in “Neighbours”. Die liefdesverhaal tussen haar karakter en Scott Robinson (vertolk deur Jason Donovan wat self deur Stock Aitken Waterman opgeraap sal word) laat die kykerstal van “Neighbours” deur die dak skiet. Die episode in 1987 waarin die twee karakters trou bereik ‘n gehoor van meer as 20 miljoen kykers in Brittanje alleen.
Minogue se pogings om as ‘n ernstige kunstenaar gesien te word is aanvanklik erg bemoeilik deur haar bestuur by Stock Aitken Waterman. Sy moes hard werk om die beeld van ‘n verpakte, oorbemarkte produk af te skud en haar te vestig as kunstenaar in eie reg. Sy is egter nie skaam vir werk nie en deur die jare herinterpreteer sy haarself en haar werk oor en oor. Die vergelykings met Madonna lei tot ‘n dekades-lange wedywering vir die publieke aandag. Soos beide kunstenaars in hul loopbane vorder ontwikkel daar ‘n gesonde en wedersydse respek. Die bekende musiekjoernalis Kathy McCabe beskryf in The Telegraph vir Madonna as die donkerkrag en vir Kylie as die ligkrag – beide nodig vir ‘n perfekte balans in die industrie. Beide kunstenaars se invloed op musiek, mode, kultuur, publieke opinie en die gedagtes van ‘n generasie kan nie onderskat word nie. Die langdurigheid van hul loopbane spreek van hul vermoë om verskillende generasies se verbeelding aan te gryp.
In 2007 word ‘n bronsbeeld van Kylie Minogue in die waterfront buurt bekend as die Docklands in Melbourne onthul.
Die gebied waar Melbourne se Docklands vandag staan was tot en met die middel 1800’s ‘n soutwater strandmeer in die middel van ‘n reuse vleiland. Met die ontwikkeling van industrieë in Melbourne brei die stad uit in die rigting van die strandfront en in 1880, onder leiding van die Britse siviele ingenieur John Coode, word die natuurlike koers van die Yarrarivier aangepas en die monding verbreed om plek te maak vir die nuwe Victoria dokke.
Rye en rye industriële geboue, fabrieke en pakhuise skiet op langs die dokke met die hawe aan die een kant en die spoorwegwerf van die Spencer Street stasie aan die anderkant.
Die Spencer Street stasie word herdoop tot die Southern Cross stasie in 2005. Dit is steeds die enigste stasie wat die Docklands bedien. Die stasie word in 1859 in diens geneem – net vyf jaar na die indiensneming van Melbourne se eerste spoorwegstasie, die Flinders Street stasie. Laasgenoemde is ‘n doodloopstasie – of terminus – terwyl Spencer Street stasie ‘n deurloopstasie is. Die twee stasies sal heeltemal apart bedryf tot en met 1879 toe hulle met ‘n enkel spoorlyn verbind sou word. Dié spoorlyn was slegs vir vragtreine en is net snags gebruik om vrag van die een stasie na die ander te vervoer om op verskillende roetes geplaas te word, want al is Spencer Street stasie ‘n deurloopstasie, bedien die Flinders Street stasie aansienlik meer spoornetwerke – toe en steeds vandag. Dit is die besigste stasie op Melbourne se stedelike netwerk. Dit beskik oor die langste stasieplatform in Australië en die vierde langste in die wêreld.
Die huidige hoofgebou van Flinders Street stasie is in 1909 voltooi en is ‘n kulturele ikoon van Melbourne. Die Edwardiaanse gebou is waarskynlik die mees herkenbare van Melbourne se landmerke. Die eksotiese karakter van die gebou vuur die legende aan dat die ontwerpe vir Melbourne se stasie en die stasie van Bombaai in Indië destyds tydens beide lande se koloniale eras in die pos omgeruil is.
Alhoewel daar reeds spoordienste in Australië was, is al dié dienste bedien deur waens wat deur perde getrek is. Die oudste van dié dienste is die Goolwa-Port Elliot diens. In 1854 bou Melbourne se Robertson, Martin & Smith Engineering Works die eerste stoomlokomotief om in geheel in die Suidelike Halfrond gebou te word. Dié lokomotief word spesiaal gebou vir die opening van ‘n nuwe spoorlyn.
Met die opening van die Flinders Street-Sandridge spoorlyn in Melbourne op 12 September 1854 word dit die eerste stoomlokomotief om sy wiele te draai op Australiese bodem toe hy sy fluitjie blaas en wegstoom vanaf Flinders Street stasie.